Anna, Dogter van Angela van Bengale

Wat Therese sê…

Anna, Dogter van Angela van Bengale
2005 Published by David Philip in Cape Town, South Africa
ISBN 0 86486 671 2


Die beste geskenk is die een wat onverwags in jou skoot val, die een waarvoor jy nooit gevra het nie en selfs nie eers van gedroom het nie.

So was dit met Anna, dogter van Angela van Bengale, die vertaling van Kites of Good Fortune. Die voorstel van die uitgewer om Kites in Afrikaans te vertaal het my verstom maar blykbaar het die marknavorsing getoon dat daar wel ‘n mark vir ‘n Afrikaanse weergawe sou wees. Maar om die boek self te vertaal, het ek nie kans gesien nie. Alhoewel ek Afrikaans nog steeds vlot praat, het ek geen selfvertroue om dit as formele skryftaal te gebruik nie. Die wat my ken, glimlag as ek in Suid-Afrika kom kuier en met my ‘museum’ Afrikaans voor die dag kom. Hulle is verstom oor die ‘suiwere’ gebruik! Al wat dit beteken, is dat ek g’n clue het oor loslit Afrikaans nie. Ek is in 1965 die land uit; my kontak met die geskrewe woord was beperk tot briewe en ‘n boek hier en daar. Afrikaans was my spreektaal, my hartstaal, ‘n plantjie onder glas, ver van die blootstelling aan verandering. As ek sou skryf, sou dit in Engels wees, vir ‘n Engelse leserskring. Dit sou lank neem voordat ek daardie selfvertroue sou hê en nog langer voordat ek ‘n uitgewer vir Kites sou vind.

Kort na die uitgawe van Kites in Aug. 2004, het Elmarie Freidberg aan die werk gespring. Ek het in Jakarta gesit en elke hoofstuk hersien soos sy dit vertaal het. Ons het besluit om die taal ‘formeel’ te hou sodat die storie sy ‘sepia’ karakter kon behou. Ons moes besluit wanneer ‘n gesprek wat met ‘u’ begin het, moes oorslaan na ‘jy’ en ‘jou’ - daardie wonderlike meganisme wat so subtiel die skuif in intimiteit aandui. Daar was spesiale kennis wat toegepas moes word soos in die geval van die ‘viol’. Ek het die Nederlandse bronne geraadpleeg en op ‘knie viool’ of ‘gamba’ besluit. Dis wat ‘n ‘viol’ is, ‘n vroeëre vorm van ‘n tjello.

Ongelukkig is baie van die versigtige werk oorgesien in die finale redaksie. Nog Elmarie nog ek is in daardie stadium geraadpleeg. Ek was wel ingelig oor die vertaling van die titel en het saamgestem dat ‘n letterlike vertaling van Kites of Good Fortune naas onmoontlik was. Ek het ander titels voorgestel, Geluk en Ambisie, om maar een te noem maar daar is besluit dat die mark vir ‘n beskrywende titel beter sou wees. Beskrywende titel, goed, maar moet in hemelsnaam nie Angela in Engela gaan staan en vertaal nie! Sy was net so min Engela as wat Jan en Maria van Riebeeck John en Mary was. En daar is die verwysing na die transformasie van haar fiktiewe Indiese naam ‘Anjali’ na ‘Angela’ in Portugees met ‘n sagte ‘g’. Mens hoor nog vandag daardie uitspraak op die strate van Rio. My argumente, indien hulle die redaksie bereik het, is oor die hoof gesien en nou sit ons met die huidige produk. Maar, nouja, ek is nie ‘n control freak nie en as die boek in Russies vertaal is, sou ek in elk geval g’n clue gehad het nie!

Wat wel wonderlik is, is dat die boek soveel meer mense bereik, nasate wat hulle band met Angela en Anna kan versterk in die wete dat ons stamboom waardige wortels het. Ek hoor gereeld van hulle en ek weet dat my storie ons almal nader aan mekaar gebring het.

Back to top... Wat die mense sê

Beeld, 4 Feb 2005
Lydia du Plessis

Die verhaal van Anna de Koning lê Therese Benadé, ‘n 11de-generasie afstammeling van dié merkwaardige vrou, klaarblyklik na aan die hart. Met Anna aan die word, deel Benadé hierdie boeiende verhaal van haar familie se geskiedenis met die leser.
Op ‘n helder dag keer Anna, beter bekend as Annie, terug na die Kaap ná ‘n Europese reis. Nou in haar laaste lewensjare, kyk sy terug op haar lewe – ‘n lewe wat grotendeels deur haar ma, die Bengaalse slavin Angela, gevorm is. Annie se pa, Kaptein David Koning is dood toe sy skip vergaan het – genadiglik nada thy voorsiening vir sy beminde en hull kind gemaak het.
Só gebeur dit dat Angela, wat in diens van die Van Riebeeck-huishouding was, haar vryheid verkry. In haar nuwe lewe werk sy onverpoos om ‘n blinker toekoms vir haar kinders te verseker. Die jong Annie gedy in die ondersteununde omgewing van haar moederhuis.
Veels te leergierig om haar aandag slegs by die borduurnaald te bepaal, verbreed sy haar verwysingskader om ook plantkunde, Latyn en skilder in te sluit.
Hierdie uitsonderlike kwaliteite gaan nie ongesiens aan Sersant Olof Bergh verby nie, en kort voor lank is hulle getroud. Dit merk die begin van die hegte verbintenis wat deur die jare van swarigheid én van sukses, ongebroke sal bly.
Die aanvanklike vreugde en voorspoed wat in die egpaar se huis heers, is van korte duur – Olof se loopbaan word bykans vernietig ná valse beskuldigings van diefstal. Ná ‘n bittere stryd seëvier hy wel, en word bevorder tot kaptein van die garnisoen.
In Olof se krisis moes Annie die vernedering ervaar om deur die gemeenskap verwerp te word. ‘n Stryd breek in haar los wanneer sy haar weer in die voorkamers bevind van diesélfde hoëlui wat haar verdryf het.
Haar kunstenaarsnatuur rebelleer ook teen die streng reëls wat deur die samelewing voorgeskryf word. Vir Annie is haar man en kinders egter die spil waarom haar wêreld draai en sy keer altyd terug na die toevlug van haar familie se liefde.
Ure van navorsing in argiewe en museums vorm die grondslag van hierdie insiggewende boek. Benadé se beskrywings van die Kaapse gemeenskap met die eeuwisseling van die 17de eeu word noukeurig en deeglik uiteengesit. Hiérin lê die boek se grootste waarde.

RAPPORT, 24 JULIE 2005

‘Ek skryf maar my boekies’
Therese Benadé, ‘n regstreekse afstammeling van die vrygemaakte Kaapse slaaf Angela van Bengale, vertel vir SONJA LOOTS meer oor haar historiese roman: Anna, dogter van Angela van Bengale.

Dit is nie vreemd dat Therese Benadé ‘n mens vra om haar in die vertreksaal van die Johannesburgse Lughawe te ontmoet nie. Ook nie dat sy in die loop van die gesprek skielik effens gedisoriënteerd raak en twee keer moet dink voordat sy onthou op watter lughawe sy haar nóú weer bevind nie.

Sedert sy 23 jaar gelede landuit is, het sy in onder meer Zimbabwe, Brittanje, Kanada, Brasilië, Pakistan en Amerika gebly. Ná ‘n warrelwind-besoek aan Suid-Afrika om haar nuwe boek te bemark, is sy nou onderweg na Indonesië, waar sy saam met haar man woon -maar nie meer vir lank nie, want eersdaags verhuis hulle na Boston in Amerika.

In al die baie swerwersjare het Engels haar skryftaal geword, sê sy, maar Afrikaans het haar “hartspraak” gebly. Daarom is sy so bly dat haar historiese roman oor Anna de Koning nou in Afrikaans beskikbaar is.

Maar dié boek lê haar ook om ‘n ander rede na aan die hart: dit handel oor die dogter van ‘n vrygemaakte slaaf genaamd Angela van Bengale, van wie Therese ‘n regstreekse afstammeling is. ‘n Voorsaat van wie sy eers uitgevind het toe sy al in die veertig was.

Therese onthou goed hoe sy in die middel jare tagtig na ‘n lesing deur dr. Hans Heese, skrywer van die destyds opspraakwekkende boek Groep sonder Grense, gaan luister het. Dié boek, wat midde-in die hoogtyjare van apartheid gepubliseer is, het vir ‘n storm in die kleine gesorg deur te wys hoeveel “wit” Afrikaner-families in der waarheid van gemengde Europese, Oosterse en Afrika-herkoms is.

“Op die voorblad van die destydse uitgawe van Groep sonder Grense was ‘n afbeelding van ‘n portret van Olof Bergh,” sê sy.

“Ons het altyd geweet ons is van Bergh se bloed. My ma het dikwels gesê daar is blou bloed in ons are en daarom moet ons goeie maniere hê en ons gedra. Maar oor ons ander voorsaat, Bergh se vrou, die vrygemaakte slaaf Angela van Bengale, het hulle ons nie vertel nie. Dit het hulle ‘n bietjie weggesteek.”

Dit is die ene kuiltjies soos sy hieroor lag kry. “Dit is darem snaaks hoe die wiel draai. Nou is dit bykans ‘n statussimbool om só ‘n voorouer te hê. ‘n Tante van my, ‘n afstammeling van Eva/Krotoa, vertel nou die dag hoe moeilik dit aanvanklik vir haar was om te aanvaar waar sy vandaan kom. Maar nou is alles reg.”

Dalk, sê Therese, is hierdie nuutgevonde aanvaarding by Afrikaners die rede waarom die tyd ryp is vir ‘n nuwe vlaag boeke oor die Kaapse slawegeskiedenis en die rol wat mense van gemengde afkoms in die Kaap van Goeie Hoop gespeel het.

Vir haar was die enigste portret van Anna wat nog bestaan so mooi dat sy dadelik geweet het sy wil iets oor dié vrou skryf.

Terwyl sy navorsing vir die roman gedoen het, het sy met opset nie Dan Sleigh se Eilande (Tafelberg) of Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap (Tafelberg) gelees nie. “Ek wou nie beïnvloed word nie. My boek moes op sy eie bene staan.” Die Buiteposte (Protea Boekhuis), Sleigh se seminale studie oor die geskiedenis van die VOC aan die Kaap, het sy egter gereeld geraadpleeg.

En tog—nadat sy twee jaar lank inventarisse, vendusielyste, dagboeke, resolusies van die VOC se politieke raad en nog vele ander argiefmateriaal bestudeer het—moes Therese erken dat bitter min bekend is oor Anna de Koning.

“Ons weet nie regtig wie sy was nie. Slegs een of twee episodes uit haar lewe is opgeteken. Verder weet ons net hoe sy gelyk het, dat sy dertig jaar lank met Olof Bergh getroud was, dat sy elf kinders gehad het.”

In haar roman het sy haar gewend tot “ingeligte raaiwerk”. Dit is ook aan hierdie kapstok dat sy die omstrede toneel hang waarin Simon van der Stel Anna verkrag.

“Almal vra my of dit waar is. Dan sê ek: nee, dis ‘n storie. En dis net ‘n klein verkragtinkie. Dis gou-gou verby en Anna het nooit vir iemand daarvan gesê nie. Maar dit is waar dat Van der Stel se vrou nie saam met hom Kaap toe gekom het nie. Dit is ook waar dat hy in Holland aangekla is weens geweld teenoor sy vrou. En dan stel ‘n mens jou maar so ‘n karakter voor, jy weet.”

Oor die moontlikheid dat die borduursels van fiksie die waarde van haar navorsingswerk ondergrawe, is sy gelate. “Ek is nie ‘n geskiedkundige nie. Ek is ‘n storieverteller. Die akademici moet maar hul kongresse hou en so aan; intussen skryf ek maar my boekies.”

Storie gefragmenteer, karakter onvergeetlik
marina le roux

DANKSY die onverdrote navorsingsywer van skrywers soos Karel Schoeman, Dan Sleigh, Dalene Matthee, Winnie Rust en Therese Benadé kom lesers ál meer te wete oor die vroeë, versweë en soms verdwene vroue in die Kaapse geskiedenis. So word marginale, en soms ook gemarginaliseerde, karakters soos Armosyn, Eva-Krotoa, Pieternella, Martha en Anna die sentrale karakters in die nuwe geskied(her)skrywing en in historiese romans.
Benadé se roman het oorspronklik in Engels verskyn onder die evokatiewe titel Kites of Good Fortune (2004). Die Afrikaanse titel verklap reeds voortydig die tema. Anna vertel die verhaal uit die 17de-eeuse hede terug na die verlede om ook haar moeder se interessante lewe te oorspan en regenereer. Sy werp ook ’n sibellynse blik op die toekoms om Afrika en Europa, die Kaap en Patria te versoen.
Anna de Koning is ’n sterk, intelligente, selfs eksotiese hoofkarakter, getroud met Olof Bergh, kaptein van die garnisoen aan die Kaap. Hul opwindende verhaal en dié van hul kinders oorheers tereg Anna se vertelling. Saam hiermee word die stories van talle newekarakters kortliks verweef. Daar is fiktiewe karakters sowel as historiese figure in fiksionalisering en defiksionalisering, bekendes soos die Van Riebeecks en die Van der Stels, maar ook miskien minder bekende besoekers, veral botanici soos Heinrich Claudius, Willem ten Rhyne en Paul Hermann.
Sommige karakters, soos Eva en Pieternella, migreer uit reeds bekende resente historiese fiksie na dié van Benadé. Dit verleen geloofwaardigheid aan haar uitgebreide, maar soms ongeordende en vir die leser uitputtende navorsing. Daar is ’n oordaad van minusieuse besonderhede oor die sosiale lewe en protokol, kleredrag, voedsel, vermaak, plante- en dierelewe en daaglikse roetine.
‘n Hele hoofstuk word byvoorbeeld uitsluitlik aan die batik-kuns gewy. Trouens, elkeen van die 17 hoofstukke, kompleet met verklarende titels, bevat min of meer een episode uit Anna se lewe X skynbaar bloot ’n arbitrêre keuse. Dié werkwyse, tesame met ’n ietwat pedantiese styl, die oorvloed van detail en groot aantal karakters op die periferie van die intrige fragmenteer ongelukkig soms die verhaallyn tot diskontinue brokke. Wanneer ’n verbeeldingswerk soos dié ’n enumerasie van mense en gebeure word, wyk die bekoring en laat dit die bedroë leser met ’n “dull catalogue of common things”, om Keats se uitspraak aan te haal.
Miskien is die verbrokkeling van die teks in ’n mate te wyte aan die vertaling. Benadé het by geleentheid gesê Engels is haar skryftaal, maar Afrikaans haar “hartspraak”. Ongelukkig is die hart spraak van die vertaling soms stroef en stokkerig en word dit bederf deur hinderlike vertaalfoute. Ter illustrasie enkele voorbeelde: Eva trek haar tradisionele klere aan en “. . . she rubbed some charcoal on her cheeks . . .” Die vertaling lui: “Heel laaste smeer sy steenkool aan haar wange.” Anna se portret, deur Jan de Grevenbroeck, is nie net in die teks afgedruk nie, maar ook in detail beskryf. Die leser kan dus beeld en teks vergelyk. Maar in die Afrikaanse verduideliking is “regs” en “links” omgeruil, en die simboliese impak van die objekte op die skildery gaan verlore.
Die reeds stram vertaling word verswaar deur spel- of setfoute: “solank” en “so lank” word verwar, daar staan “skeeps kaptein”, “halstarrig” en “tapiserieë”, en op bl. 213 ontbreek twee sinne, met die gevolg dat twee karakters totaal verswyg word. ’n Nougesette redakteur en proefleser moes sulke mistastings onderskep het. Dat dit nie deeglik genoeg gedoen is nie, is jammer, want Anna se verhaal verdien beslis om vertel te word. Dis nie net romanties nie, maar ook spannend en fassinerend.
Benadé herskep soms treffende en ontroerende momente. Uit die perspektief van ’n vérsiende en begaafde karakter verskaf sy ’n verhelderende, maar ook verontrustende blik op die posisie van vroue aan die Kaap, ’n plek wat Matthee tereg opsom as “hemel en hel in een doek toegeknoop”. Danksy Anna se geïnspireerde lewe, haar integriteit en ambisie, transendeer sy haar “hel”, en styg sy uit, soms ’n helderkleurige vlieër, ver bo die grys somberte en sleur van die alledaagse. Die leser sal haar onthou lank ná haar verhaal klaar gelees is.
Marina le Roux is ’n afgetrede dosent in biblioteekkunde.

Back to top...
About the Author

Therese Benadé, author of Kites of Good Fortune, writes about her heritage and upbringing in South Africa and her travels and living experiences on five continents. A Canadian citizen, she lives in Ipswich, Massachusetts with her husband, Jim Armstrong. Her two adult children are Rex and Kirstie van der Spuy. Read more...

Books
  • Kites of Good Fortune

    A story about the lives of the author’s ancestors at the Cape of Good hope in the 17th and 18th centuries. Published 2004. 

  • Anna, Dogter van Angela van Bengale

    The Afrikaans translation of Kites of Good Fortune.

  • Bluestocking

    Set in South Africa between 1880 and 1927, the book explores the intellectual and moral influences on South African women of the ‘head, heart and hand’ education brought by American teachers from Mount Holyoke College.

  • The Layered Life of Tok-Tokkie

    Stories from my life touching on my childhood, my travels and teaching career, on being an immigrant, on learning languages and unlearning racism.

All books...

Bits & Pieces
  • A Layered Identity
    Text and Keynote slides of my presentation to the Harriet Tubman Summer Institute 2011
  • Textile Trip to Gujarat
    Exploring a rich world of weaving, block printing and embroidery
  • Opening
    A cryptic chronological summary of the major events in my life that drove me to live in many places in the world.

All pieces...